Nou hoekom so luiddrugtig daaroor? Motorsport in Suid Afrika en Afrika vir "that matter" kort internasionale motorsport. Nou hoe so? Ons ry tog te lekker in ons plaaslike motorsport. Ja vir die klein groepie deelnemers en toeskouers wat dit ondersteun.

Motorsport in Suid Afrika net soos in die res van die wêreld sukkel op die oomblik om kompeterende wedrenne aan te bied wat die skares of televisie kykers sal lok. Daar word al lankal gesoek om een of ander vorm van motorsport aan die gang te kry wat weer belangstelling sal wek. In die dae van Formule 1 Grand Prix is oor 'n 100,000 na Kyalami toe gelok. Plaaslike wedrenne het skares van tot 30,000 gelok met name in Formule 1 soos John Love, Dave Charlton, Eddie Keizan, Ian Scheckter, Bazil van Rooyen, Paddy Driver en Jackie Pretorius. Suid Afrikaanse motorsport het een Formule 1 wêreld kampioen gelewer in die naam van Jody Scheckter. 

Nadat die Grand Prix uit Suid Afrika weg is het motorsport ook al kleiner geword al was daar verskeie pogings om met ander klasse deelnemers en skares te probeer terug kry. Kyalami wat vir die groot motorsport in Suid Afrika verantwoordelik was het ook van een eienaar na die ander gesukkel om te bestaan en die baan het sy unieke karakter verloor toe die eiendom opgesny is en die baan verander is. Uiteindelik het plaaslike motorsport ook van nasionale TV verdwyn.

Nasionale rally het vir 'n rukkie voortgestoom maar tydrenne was nooit 'n toeskouersport met sy lang en ontoeganklike sneldele nie. Dit het ook aan die ander siekte van Suid Afrikaanse motorsport begin ly waar vervaardigers en deelnemers nie wou deelneem as hulle nie heeltyd kon wen nie. 

Ovaalbaanwedrenne wat baie bekostigbaar was het aan die gang gebly maar dit was hoofsaaklik 'n goedkoop sport om mee te begin wat ongelukkig nooit verder as amateur status tov organiseering gevorder het nie. Die sport is deeltyds volgens 'n klub stelsel bestuur. Dit beteken 'n groepie persone uit ander voltydse beroepe het eenmaal 'n maand 'n wedren in hulle spaartyd georganiseer en laat plaasvind. Hier en daar was daar 'n promotor wat dit gewaag het om dit voltyds te organiseer met vrywilligers en op gehuurde grond, hoofsaaklik munisipale arenas op skougronde. Maar hulle was gou gekritiseer dat hulle nie genoeg geld in die sport en mense wat gehelp het teruggeploeg het nie en ook die sport nie verder ontwikkel het nie.

Ovaalbaansport het nooit soos Rugby met die Super Reeks en Krieket met sy T20 en Day-Night verder ontwikkel nie en word huidiglik nog steeds as amateursport net soos in die 1960s bestuur en aangebied. Uiteindelik het al hoe minder mense gaan kyk met 'n hele klompie bane wat toegemaak het.     Irwindale het sy binneveld gebruik vir Rally Cross (Sien die video daarvan verder af).
Kampioen status het nooit verder as Nasionale status gevorder nie, wat op die ou end ook nie baie nasionaal verteenwoordigend was nie. Dit weens die oneffektiwiteit van die beheerliggaam om nasionale deelname te bewerkstellig wat deur al die top deelnemers, bane, klubs en promotors ondersteun moes word. Dit het die bestaan van 'n tweede beheerliggaam veroorsaak wat eintlik net nog vir meer verdeling gesorg het. 

Daar heers baie politiek en baie bane bestaan net vir hulle self met 'n streng outokratiese bestuurstyl, klasse en aanbieding volgens die organiseerder se persoonlike keuse en nie byeenkomste wat algemene publiek sal lok nie. Sekere "ingevoerde klasse" is heeltemal te duur vir gewone deelnemers van 'n amateursport en eienaars en borge wil nie deelneem as hulle teen "tjekboek" deelnemers moet kompeteer en nie kan wen nie.

Die koms van TV het ook vir minder ondersteuners gesorg maar daar was ook ander goed wat toeskouers weg gehou het. Soos baie byeenkomste wat heeltemal te lank is vir 'n familie met kinders en wat te laat in die nag aan gaan. Jonger mense en geld het na die baie ander versplinterde motorsportsoorte gegaan

Hoe kom Rallycross (RX) in die prentjie en wat is dit? RX is 'n sport wat met rally tipe motors in 'n beperkte ruimte of area plaasvind met 'n baan wat 1/2 teer en 1/2 grond is. Sommige bane is so beplan dat dit in 'n arena plaasvind en toekouers wat dit bywoon kan die hele of 'n baie groot deel van die baan sien. Dit sorg vir meer opwinding. 

Bo is F1 se Hockenheim baan wat aangepas is vir RX in sy arena gebied.
RX was hoofsaaklik 'n lae profielsport in Europa en is so drie jaar gelede ge-identifiseer as 'n motorsport tipe met baie potensiaal. Dit is FIA wêreldkampioenskap status toegeken en is sover baie suksesvol en het 'n paar nuwe wêreldkampioene gelewer. Dit het groot name hoofsaaklik van die WRC gelok met sommige byeenkomste wat deur 30,000 toeskouers bygewoon is.

Bo is TOP GEAR se ondervinding van Rally Cross vir die gewone man.

Terwyl Suid Afrikaanse motorsport verder voort gesluimer het was daar motorsport entoesiaste wat RX plaaslik van die grond af wou bring. Grond was beskikbaar gestel waar 'n veeldoelige kompleks ontwikkel kon word insluitende ovaalbaanwedrenne, Rallycross, gokarts, quads, versnelwedrenne, gymkhanas, 'n behoorlike drifting baan en spinning. 

Dit sou ook die tuiste wees van 'n motorklub in die streek wat enige motor tipe groep insluit van motorsport, sportmotors, veteraanmotors, 4x4, karavaan groepe en vir enige groep betrokke met wiele. Die sentrum sou met owerhede en besighede saamwerk en help met bestuurder opleiding, bestuurder kompetisies en drywer van die jaar. Opleiding in vaardighede sou aangebied word en met baie moontlikhede vir werkskepping. Werkskepping is 'n alternatief of teenvoeter vir misdaad.

Ovaalbaanwedrenne met sy deelnemers, karre en bestuur was ge-identifiseer wat motorsport dalk na 'n volgende vlak kon neem deur die fasiliteite effens aan te pas of dit te verander na 'n kompleks wat verskillende tipe wedrenne, insluitende ovaalbaanwedrenne, kon aanbied. In Gauteng is daar reeds een baan, Rock Raceway wat sy baan gebruik vir meer as net die tradisionele ovaalbaanrenne.

Huidige ovaalbaan karre is baie geskik vir deelname aan Rallycross indien dit op 'n intree of klubvlak plaasvind. Die hoofdoel was om dan die sport te ontwikkel in 'n sport waarmee deelnemers tot nasionale kampioen kon vorder en dan verder in internasionale deelname. Jong mense is op soek na sulke geleenthede vir 'n moontlike loopbaan sonder om eerste oorsee te moet gaan probeer wat baie moeilik is. Behalwe vir tydrenne is daar eintlik nie sprake van beroeps of professionele deelnemers in Suid Afrika nie.

Die aanpassings van ovaalbane sal moontlik nie by almal heeltemal kan klassifiseer vir FIA status nie, maar dit kan wel 'n beginplek wees vir toetrede na RX met uiteindelik weer 'n motorsport in Suid Afrika met wêreldkampioen status. Nuwe jong deelnemers sal kan vorder van beginner tot kampioen met internasionale status.
Deur die ovaalbaan se binneveld te benut en daarop met ovaalbaan tipe karre of effens aangepasde karre en rally tipe karre op verskillende vlakke deel te neem kan dalk nog vir opwindende wedrenne sorg. Dit alles binne 'n arena wat aantreklik vir toeskouers is en ook baie geskik is vir TV dekking. 

Drie van die maand se ander naweke kan aangewend word vir ander tipe motorsport, nuwe klasse en hulle deelnemers om te ontwikkel. Daar moet nuwe, onervare en "plesier-ryers" hulle self eers bewys en kwalifiseer voordat hulle saam met die ervare deelnemers in die "main" byeenkoms kan deelneem. 'n Opname het getoon dat daar baie motors ge-"park" is hoofsaaklik omdat baie deelnemers nie in groot klasse 'n kans het om te wen nie en selfs nie in bestaande klasse pas nie. Die alternatiewe naweke kan daarvoor aangewend word, ook wanneer daar te veel klasse is of klasse baie groot is met baie beginners. 

Verskillende motorsport tipes soos drifting en spinning, wat nie almal se gunsteling sport is nie, kan daar beoefen word en elemente daarvan kan nou en dan in "main events" plaasvind om gewildheid te toets. Korporatiewe "team building events" soos by indoor karting kan met banger tipe motors selfs in weekdae daar plaasvind en besighede, groepe en vakansiegangers lok om deel te neem en geld vir eienaars en vir die sport te verdien eerder as om die tipe karre te verwoes. Die addisionele kapasiteit wat al die jare vermors is kan so gebruik word om te verhoed dat huidige byeenkomste nie nog langer word nie en dat deelnemers en motors nie so gou verloor word nie. Al wat nodig is is 'n intrepeneur met verbeelding, tesame met hulp en ervaring van motorsportkundiges, wat konsentreer op vermaak vir toeskouers en die uitsaaibaarheid op televisie of die internet om die sport in 'n suksesvolle besigheid en werkverskaffer te omskep.




In hierdie video (regs) lei Mika Hakkinen vir James May van Top Gear op om op los pad oppervlaktes in Finland te ry.

Aan die einde van die video is daar 'n interessante manier om met Stock Car of Banger tipe motors op iets anders as 'n ovaalbaan te ry.

Dit gee mens 'n idee om Bangers dalk eers vir "korporatiewe" geleenthede aan te wend, 'n bietjie geld vir die eienaars te maak voordat die motors verwoes word.

Miskien moet daar ook eenkeer 'n jaar op so tipe baan met ovaalbaan karre gery word vir die ondervinding. Dit mag dalk net tot iets lei wat addisioneel to ovaalbaan wedrenne aangebied kan word.

Met internet kan die sport ook baie maklik daarop bemark word en selfs per subskripsie vertoon word. Dit kan 'n groot bron van inkomste wees om groot name te lok en nog beter wedrenne aan te bied. Die sport behoort ook as 'n besigheid bestuur te word en werk te verskaf in 'n land waar dit so nodig is. Meer private bane moet probeer ontwikkel word. Fasiliteite kan met verskillende motorsport tipes baie kere 'n maand baie beter benut word en die sport 'n beter kans vir gewildheid en selfs oorlewing gee.

Indien die sport en fasiliteite baie goed as 'n besigheid bestuur word is daar oorgenoeg moontlikhede vir sukses, werkskepping en vermaak met ander motorsportsoorte wat ook aangewend kan word. Daar sal egter bietjie hardewerk en breinkrag ingespan moet word. As alles maklik en eenvoudig is sal almal dit doen en dan is daar geen voordeel nie. En as iemand sê "dit sal nie werk nie" beteken dit maar net dat die persoon wat dit sê dit nie sal kan maak werk nie.

HOME




Above - 360° VIDEO - After starting the video use your mouse on the screen to look around



Above - WorldRX 360° VR Experience with Ken Block and Andreas Bakkerud - Look around 360°
Comments